Sunday, August 30, 2015

Die Woestynpad van bevryding





Dit is tydens saam-oppiepad - saamwees oppie langer pad, dis met hierdie tye dat versugting en moedeloosheid dikwels omskep word in verligting.

Op die eindelose, nomadiese pad verlaat sin en funksie die bewussyn met tye. Soms is al wat oorbly bloot net 'n meganiese aanstap. Tree vir tree spore agterlaat deur droogtes, woestynnagkoues, hittige   middagson oor eindelose horisonne van woestynsand en baie niks.

En dan, vanuit die voortploeter deur groot stukke niks, aanvanklik soos 'n mirage in die woestyn verskyn daar met tye. dikwels op die onverklaarbaarste maniere, die oases van verligting, verfrissing. Dit kan 'n werklike oase wees, 'n blye herontmoeting en selfs so onsigbaar soos 'n terugblik op iets wat eens so mooi was dat dit in jou geheue bly vassteek het.

Die woestynpad kan 'n pad wees van bevryding. Soos die subtitel van Henri Nouwen se boek : "The Inner Voice of Love" dit mooi saamvat: "A journey through anguish to freedom". Aanhouer wen. Tree vir tree - en uit niks, uit woes en leeg is die aarde geskep in al sy glorie!

Het jy nog 'n oomblik, liewe medemens?

Laat die ou bekende Mike Batt jou vir 'n minuut of twee op 'n reis neem...

Intussen :

ONS GAAN BLYMOEDIG VOORT


Mike Batt Caravan Song

Saturday, August 29, 2015

Stihou en feesvier - saam-oppiepad !





En dan is daar die tye wat stihou meer is as bloot net stilhou vir petrolingooi of bene rek! Of selfs meer as net bloot saamkuier! Dan is daar die tye wanneer ons doelgerig wil saam feesvier. Saam geniet die suksesse en mylpale van geliefdes. Belangrike en selfs onmisbare geleenthede waar ons saam vir en saam met mekaar opgewonde raak oor meer as net ons eie suksesse.

Kan ons onsself toelaat om soms selfloos meegesleur te word in en deur die sukses wat dalk selfs buite onssigselwers is? Die suksesse van medemense en "geliefdes" waarop ons selfs dalkies stilweg jaloers is? Outch! Dit kan eina raak! Maar nie daar gelaat nie! Ons wil tog immers almal groei of hoe!?

Hier is 'n uitdaging: Miskien is blyword vir en saammet 'n "beduindende ander" een van die toetse van mededeelsaamheid, medemenslikheid en selfs van die mate waartoe ons daarin kan slaag om "community" te doen!? Edelheid! Dit klink darem goed en reg - up to the challenge?

Kan jy jouself agterlaat en saam feesvier oor die suksesse en mylpale van geliefde mede saam-oppiepad reisigers?

Die vraag bly privaat. Aanvanklik (gelukkig) die antwoord op die vraag ook! Die antwoord sal met tyd meer en meer sigbaar raak. In die vorm van 'n oorwinning! Die beloning is baie groot! Watch this space!

Kom ons gaan aan - saam-oppiepad! Ook hierdie dikwels effe moeiliker pad!

ONS GAAN BLYMOEDIG VOORT !



Tuesday, August 25, 2015

Die lang pad.




Is die pad soms baie lank en sonder rus? Is jy moeg geloop? Moeggeploeg? Dit gebeur in die beste van families! Skrale troos! Moeg is moeg en ophou is dikwels nie 'n opsie nie. Ai tog. Hoegemaak nou?

Aanhou met Windows stilletjies in SAFE mode is soms 'n opsie. Terwyl jy "Reposition", "Refuel" en "Regroup"?

Aanhou maar terselftertyd ophou om aan te hou teen dieselfde spoed as vantevore. Jy mag dalk verbaas wees oor hoe min van jou bewonderaars dit wel agterkom!

Spaar jou energie. "Go green" en werk meer ekonomies met jou "resources"? Dalk?

Net los gedagtes. Wat dink jy?

ONS GAAN BLYMOEDIG VOORT!

Sunday, August 23, 2015

Die volgende reisplan




My ma het altyd gese dat jy ten minste drie redes moet he alvorens jy die motorsleutel draai en begin ry. Haar redes was onder meer ekonomies - om ons te leer om byvoorbeeld spaarsamig te wees, Sy wou ons ook waarskynlik leer om doelgerig te lewe!?

Daar is ook  'n groter waarheid in hierdie beginsel opgesluit. Dis amper noodsaaklik om 'n verdere doel te he: alvorens jy by jou bestemming aankom, moet jy reeds die volgende seisoen se reis begin beplan en dalk selfs in plek kry.

As jou doel is om net matriek te maak, kan die lewe heel moontlik vir jou doelloos platval wanneer jy by matriek uitkom.

Indien jou doel is om net by aftrede uit te kom, is daar 'n groot kans dat meer as bloot net ophou werk sal inskop by aftrede : jy mag dalk op baie maniere doodgaan en jouself in die vertreksaal na jou hiernamaals bevind!

Indien jy by 'n bepaalde posisie van binne jou organisasie wil uitkom - waarheen gaan jy asjy  dan nou klaar by "bo" uitgekom het?

Kry vir jou 'n doel vir na hierdie doel en jy sal vele onnodige doodloopstrate vermy!


ONS GAAN BLYMOEDIG VOORT !

Oases langs die pad - saamkuier



Saam-oppiepad wees beteken ook soms saamrus langs die pad. Die groen oases van vrede - soms heel bekend en soms soos vars nuwe ontdekkings. Soms die herlewing van ou, miskien selfs lank vergete saamwees momente.

Die tenkvolmaak van saamwees, bene rek, saam lag en selfs saam eet. By ons 'n boerebraai en by julle miskien 'n plaaspiekniek. By ander dalk 'n maaltyd rondom 'n skaapboud. Saamwees en saamdeel is waaroor dit gaan by so 'n volmaak, goedmaak en heelmaakfees.

Saamkuier by oases van saam-veiligwees is 'n noodsaaklike element van saam-oppiepad wees. Maak tyd vir hierdie bestandeel!

Dankie aan almal wat deel is van my veilige plekke!

ONS REIS BLYMOEDIG VOORT!

Friday, August 21, 2015

Verlange. Dalk net. Miskien weer eendag.




Gegroet, liewe mede-reisiger!

Waarna verlang jy vandag?

Om te verlang is 'n baie persoonlike ervaring. Persoonlik en uniek. Miskien is verlange iets wat in hierdie nou- as onvoltooid of onafgehandeld ervaar word? 'n Versugting soos " As ek maar net..." ?

Verlange kan verkillende vorms aanneem. Verlange kan vorentoe gaan of agtertoe gaan

Vorentoe verlang is ook dalk hoop? Vorentoe verlang is byvoorbeeld die uitsien na dit wat nog kom. Daar is die verlange na die ideale persoon wat jy nog wil ontmoet. Daar is selfs ook die verlange na 'n hiernamaals. 'n Uitsien na 'n tyd wanneer dinge dalk net goed en mooi sal loop.

Dan is daar terugverlang na daardie tye en dae wat goed was. Dikwels 'n terugverlang huistoe. Wortels toe. Eie mense toe. Dalk selfs 'n terugverlang na jou vaderland waar jy dalk in die vreemde alleen vasgekluister sit - dalk selfs sonder dat iemand weet!? 'n Terugverlang na daardie mense en plekke en dinge waarvan ons dalk moeilik afskeid geneem het. Terugverlang na geleenthede wat deur jou vingers geglip het. Wat dalk vir altyd weg is?

Maar wanneer die pyn van verlies in groter dosisse verby is, dan bly net die verlange en die heimwee oor. En dit kan goed wees. Om te kan voortleef met die wete dat dit wat goed is moontlik was en daarom weer moontlik kan word.

En dan is daar die groter, dieper en blywende dors van die "Diepverlange" waarvan Jannie du Toit sing:

"O Christus diepverlange, van elke sterweling...

en kom ons eindig vandag saam met sy gevolgtrekking:

"...en rykdom laat be-erwe, wat ewig sal bestaan.."

Gegroet!

ONS REIS BLYMOEDIG VOORT!

Wednesday, August 19, 2015

Padlangs praat




Padlangs praat is om nie woorddraaie te loop nie. Om nie doekies om te draai nie. Padlangs praat is  om nie kortpaadjies of afdraaipaadjies te soek nie. 

Verder beteken padlangs praat ook om nie in doodloopstrate in te draai nie. Padlangs praat is om reguit te praat. 

Om reguit en feitelik te praat is relatief maklik as dit net oor feite gaan. Wat minder maklik is is om reguit te praat op so 'n manier dat jy die verhouding met jou medemens steeds in stand hou.

Die diplomaat kan 'n moeilike ding op 'n mooi manier oordra. Die Engelse het 'n tong innie kies uitdaging in hierdie rigting:

"Diplomacy is the ability to tell a person to go to hell in such a way that he looks forward to the trip" 

Die boodskap hier is nie om mense in hulle maai in te stuur nie, maar eerder om te bly werk aan die lewenstaak van die woordkuns van saampraat, terwyl ons saamloop. 

Saam oppie pad. 

Padlangs.


ONS GAAN BLYMOEDIG VOORT! 

Tuesday, August 18, 2015

'n Storie om oor te vertel?





Liewe medereisiger

Ons loop die pad so sonder stories. So unreal en stil. Kom ons waag saam om ons menswees bloot te lĂȘ? Dan sal ons waarskynlik baie meer medemenslik en veilig kan raak. Soos kinders: I'll show you mine if you'll show me yours. Of soos die Ingelse pers drakie Barnie uitnooi: Sharing is caring.

Sal jy iets van jouself vandag waaghalsig en versigtig aan 'n gekose vertroueling meedeel?

Jy mag dalk net aangenaam verras word!


Ons gaan blymoedig voort!

Monday, August 17, 2015

Hoe loop die pad dan nou vir jou, liewe medereisiger?



Die pad terug is die pad huistoe. Coenie de Villiers het 'n mooi woordprentjie in sy song geskilder :

Daar's 'n plek wat ek van weet
sonder sorge sonder pyn sonder leed
die pad daarheen is ongekaart
die reis daarheen is sonder vaart
en daar is rusplek langs die pad

Het jy 'n sorgelose rusplek? 'n Oase van veiligheid in die rustelose elkedagroetine? Soek en kry vir jou 'n plekkie in die son. Dit kan in jou gedagtes wees, dit kan 'n stukkie mooi onthou wees. Kry vir jou 'n oase, 'n eie, persoonlike stilwees plek van veiligheid en rus langs die pad!

Soos die einste Phil Bosmans van voorheen gese het:

Die lewe is nie 'n snelweg tussen die wieg en die graf nie, maar 'n ruimte om te parkeer in die son.

Steel vandag vir jouself ten minste eenmaal 'n lekker parkeerplek!

ONS GAAN BLYMOEDIG VOORT ! 


Die pad saam loop...

Kom ons loop saam...



https://www.youtube.com/watch?v=-PK4-xYTIJA



Ek loop die pad al lank my lam
So kaalvoet deur die kou
Van doerrie kant se Doringveld
En kyk hoe lyk ek nou
Ek loop die pad so sonder hoed
Deur son en wind en grou
So kaalvoet oor die slingerpad
En kyk hoe lyk ek nou
My lam, die gras is soms so groen
Die son is soms so lou
Maar ek loop die pad alleen my lam
En kyk hoe lyk ek nou
Onthou jy nog hoe ons kon loop
So loslyf, so verspot
So vlieg-vlieg oor die koppies heen
‘n Ragab en ‘n Lot
Maar nou loop ek die pad alleen
So kaalvoet deur die kou
En soms, net soms, dan wonder ek
My lam waar is jy nou (2)

Dis alles nuut en vreemd : 'n ander manier van mededeelsaamheid...




Dis vrek moeilik om te deel van wat jy nie sien nie. Van dit waarvan jy self nog onseker is. Kom ons maak dit saam veiliger om meer mededeelsaam te raak oor ons onseker prentjies. Die prentjies wat nog so ietwat (of heelwat) uit fokus is.

Kom ons neem die risiko, vat die kans, en deel saam en raak mededeelsaam. Wat kan jy verloor? Miskien net die ongegronde vrees om te deel? Saam!?

Ek onthou die vreemdeformaat koffietafelboekie wat tydens my skooljare in ons huis rondgeswerf het. (Selde op die koffietafel - vreemd genoeg!)

Dit was 'n bloedrooi boek met 'n baie kleurvolle bos blomme voorop. Dit was vrolik. Aantreklik. Dit was menslik en diep roerend op 'n vreemde manier.

Dit was 'n Afrikaanse vertaling van Phil Bosmans (as ek reg onthou) se boek : "Menslief ek hou van jou"

Wat my steeds bybly na vreeslik baie jare is die volgende:

Die lewe is nie 'n snelweg tussen die wieg en die graf nie, maar wel 'n ruimte om te parkeer in die son.

Is dit nie beautiful nie?

Waarheen en waarom jaag ons so? Wie se orders gehoorsaam ons dan so blindelings?

Ek onthou die vrylik uitgesproke versugting van een van my wonderlike Ingelse vrinne:

"Christo, I long to have an entire afternoon in which I am free to simply sit on the step at the back door and simply watch the turkeys..."

Nou diep genoeg vir nou.

Waar wil jy die risiko neem om mededeelsaam te wees en jou pad na 'n nuwe vryheid te begin? Laat ons hoor?

Gegroet, liewe medemens! 

Kom jy saam? Kom ons loop die pad saam




Gegroet, liewe mede-reisiger!

Hier is 'n uitnodiging. Sonder druk of oordeel.

Laurika het gesing:

"Ek loop die pad al lank, my lam.."

Hoe loop jou pad? Sien en ken jy sy loop? Is dit 'n lekkerloop? 'n Saamloop? 'n Alleenloop? Watter loop is jou gunstelingloop? Nee, sonder reg of verkeerd - net die loop soos hy is. Jou gunsteling loop? Watter loop is jou loop?

Ken jy jou pad se loop? Het jy met hom vrede gemaak? Weet jy hoekom wat jou pla?

Kom ons loop saam.
Ons is saam-oppiepad.

Kom ons gesels oor die lope van onse lope. Saam en lekker veilig.