Friday, August 21, 2015

Verlange. Dalk net. Miskien weer eendag.




Gegroet, liewe mede-reisiger!

Waarna verlang jy vandag?

Om te verlang is 'n baie persoonlike ervaring. Persoonlik en uniek. Miskien is verlange iets wat in hierdie nou- as onvoltooid of onafgehandeld ervaar word? 'n Versugting soos " As ek maar net..." ?

Verlange kan verkillende vorms aanneem. Verlange kan vorentoe gaan of agtertoe gaan

Vorentoe verlang is ook dalk hoop? Vorentoe verlang is byvoorbeeld die uitsien na dit wat nog kom. Daar is die verlange na die ideale persoon wat jy nog wil ontmoet. Daar is selfs ook die verlange na 'n hiernamaals. 'n Uitsien na 'n tyd wanneer dinge dalk net goed en mooi sal loop.

Dan is daar terugverlang na daardie tye en dae wat goed was. Dikwels 'n terugverlang huistoe. Wortels toe. Eie mense toe. Dalk selfs 'n terugverlang na jou vaderland waar jy dalk in die vreemde alleen vasgekluister sit - dalk selfs sonder dat iemand weet!? 'n Terugverlang na daardie mense en plekke en dinge waarvan ons dalk moeilik afskeid geneem het. Terugverlang na geleenthede wat deur jou vingers geglip het. Wat dalk vir altyd weg is?

Maar wanneer die pyn van verlies in groter dosisse verby is, dan bly net die verlange en die heimwee oor. En dit kan goed wees. Om te kan voortleef met die wete dat dit wat goed is moontlik was en daarom weer moontlik kan word.

En dan is daar die groter, dieper en blywende dors van die "Diepverlange" waarvan Jannie du Toit sing:

"O Christus diepverlange, van elke sterweling...

en kom ons eindig vandag saam met sy gevolgtrekking:

"...en rykdom laat be-erwe, wat ewig sal bestaan.."

Gegroet!

ONS REIS BLYMOEDIG VOORT!

No comments:

Post a Comment