Dis vrek moeilik om te deel van wat jy nie sien nie. Van dit waarvan jy self nog onseker is. Kom ons maak dit saam veiliger om meer mededeelsaam te raak oor ons onseker prentjies. Die prentjies wat nog so ietwat (of heelwat) uit fokus is.
Kom ons neem die risiko, vat die kans, en deel saam en raak mededeelsaam. Wat kan jy verloor? Miskien net die ongegronde vrees om te deel? Saam!?
Ek onthou die vreemdeformaat koffietafelboekie wat tydens my skooljare in ons huis rondgeswerf het. (Selde op die koffietafel - vreemd genoeg!)
Dit was 'n bloedrooi boek met 'n baie kleurvolle bos blomme voorop. Dit was vrolik. Aantreklik. Dit was menslik en diep roerend op 'n vreemde manier.
Dit was 'n Afrikaanse vertaling van Phil Bosmans (as ek reg onthou) se boek : "Menslief ek hou van jou"
Wat my steeds bybly na vreeslik baie jare is die volgende:
Die lewe is nie 'n snelweg tussen die wieg en die graf nie, maar wel 'n ruimte om te parkeer in die son.
Is dit nie beautiful nie?
Waarheen en waarom jaag ons so? Wie se orders gehoorsaam ons dan so blindelings?
Ek onthou die vrylik uitgesproke versugting van een van my wonderlike Ingelse vrinne:
"Christo, I long to have an entire afternoon in which I am free to simply sit on the step at the back door and simply watch the turkeys..."
Nou diep genoeg vir nou.
Waar wil jy die risiko neem om mededeelsaam te wees en jou pad na 'n nuwe vryheid te begin? Laat ons hoor?
Gegroet, liewe medemens!
No comments:
Post a Comment