Thursday, October 8, 2015

Om te moet wag. ( #LetsTalk )



Image result for waiting for godot

Gegroet, liewe medemens!

Geduld is 'n baie skaars ding in vandag se lewe. Om te moet wag vir iets om te gebeur het amper ongehoord en ontoelaatbaar geraak. Miskien is dit waarom Samuel Beckett se uitbeelding van die absurditeit van om te moet wag so gewild was:


Waiting for Godot is an absurdist play by Samuel Beckett, in which two characters, Vladimir and Estragon, wait endlessly and in vain for the arrival of someone named Godot. Godot's absence, as well as numerous other aspects of the play, have led to many interpretations since the play's 1953 premiere. It was voted "the most significant English language play of the 20th century"
 Die reels van ons samelewing bepaal dat om te moet wag net aanvaarbaar kan wees as ek "produktief" en "besig" is terwyl ek wag. E-posse, sosiale media, telefoonoproepe maak "om te wag"  dalk so half toelaatbaar.

Maar om net te moet sit en wag - dis niks anders as gewoon tydmors nie. Of is dit? Kan dit dalk wees dat ons nie meer weet hoe om stil te sit nie. Dat besigwees my dalk red van bewusword van dit wat binne my gebeur wanneer ek stil sit?

Kan jy stil sit en wag? Wat is die rusteloosheid wat binne in jou roer wanneer jy stilraak?

Wanneer die geraas bedaar en ek vriende kan begin maak met die stiltes binne in my, dis dan wanneer ek uitgenooi word om 'n nuwe en groter arena te betree. 'n Plek waar daar spasie, uitkoms en stilte is. 'n Plek waar vrede en liefde in oorvloed beleef en gedeel kan word.

Dis 'n plek wat elkeen van ons winkend uitnooi. 'n Plek wat vir ons wag...

Gegroet!

ONS REIS RUSTIG VOORT

#geduld #waiting #vrede #awakening

Saturday, September 26, 2015

Stilte op die pad.


Image result for on the road through the desert


Liewe mede-reisiger,

Het jy al stilgehou in die middel van 'n lang woestynpad? Om stil te hou wanneer daar niks behalwe vreeslik baie niks om jou is, is onmenslik moeilik. Dis moeilik omdat mens se eie binnelawaai in stilte oorverdowend intimiderend kan raak. Hierdie binnelawaai kan so intimiderend wees soos 'n kind wat in 'n winkelsentrum 'n formidabelle vloermoer gooi!

Maar om hierdie geraas in klein dosissies van stilte vas te vat, vas te vang, vas te hou en te laat rustigword, hou groot beloning in. Wanneer jou eie binnestemme die kans gegee word om gehoor te word en vasgevat te word, dan raak hulle oor tyd heen rustiger. Hulle laat jou dan oor tyd met wonderlike stukke stilte. Binne hierdie stilte word 'n  Groter stem oorwinnend en kalmerend duideliker. Hierdie Groter stem, is 'n stem van vertroosting, bemoedigend en vrede. Dis 'n Stem van groot veiligheid en dit is 'n Stem wat rigting gee. Die groter stem is 'n stem wat jou geliefdheid bevestig. 'n Stem wat jou veilig omvou.

Soos wat jou vriendskap met jou nuwe Reisgenoot, genaamd stilte groei, begin jy besef dat hierdie Groter stem eintlik 'n baie betroubare altyd-daar Reisgenoot is.

Nou kan vrede en vreugde groei as uitkomste op die lewens pad wat omskep word in 'n lewensavontuur!

Liewe reisgenoot,

ONS REIS BLYMOEDIG VOORT !


--------------------------------------------------------------------------------

http://randburgcounsellingcentre.yolasite.com/contact-us.php






Thursday, September 24, 2015

'n Vreemde dors : Verhoudingsdors. Ons smag na die oases in die woestyn... #LetsTalk


Image result for oasis in the desert
Gegroet liewe medemens.

Ons kom nie meer by saamkuier uit nie.  Die gaping tussen mense: Dis groot en wyd en soms verlatediep. Die gebrek aan betekenisvolle kontak. Soos die inflasiekoers? Kontak-inflasie! Inflasie het ook ons saamwees woes gedevalueer.
Gaan ons baie intensioneel hierdie jaar anders maak?

Waar is jy liewe vriend in hierdie lewenslandskap? Ek mis jou ook. Waar en wanneer kan ons probeer opvang?  Sal ons 'n afspraak maak?


Ons afspraak raak dan soos 'n oase in die woestyn. 'n Afgesproke en baie intensionele tyd en plek waar daar vir onderbreking, haas en spoed nie plek is nie. 'n Lewenslyn vir ons beide.

Sonder afspraak is daar vandag min spasie oor vir spontaniteit, saamwees en opvang. 'n Geskeduleerde afspraak kan vervullend goed wees veral wanneer dit vanuit goedheid- en guns-behoeftes baie intensioneel geskeduleer word.

Kom laat ons saamkom in 'n ritme en roetine van lekker saamkuier. Kom laat ons saam baie intensioneel oases van koel rustigheid in die wildernes van warm woestyndae skep - tydmaak vir opvang, moedskep en saamwees langs diepe waters van rus.

Uitgenooi, liewe medemens!

ONS REIS UITGENOOI, HOOPVOL EN BLYMOEDIG VOORT!

................................................................................................................

 Randburg Counselling Centre #LetsTalk
Twitter : @Khristoffel


Wednesday, September 23, 2015

Bon Voyage! Go well! Voorspoedige reis!



Gegroet liewe medemens!

Mag jou reis voorspoedig wees! Mag jy die U-draaie en Cul-de-sac omdraaie van verdwaalpaaie geniet as deel van die avontuur van die lewenspad.

Nie altyd maklik nie - nee. Meeste van ons kom egter daardeur - en jy kan kies om een van ons te wees!

Kom ons gaan vandag by ons volksvader aanklop:

 CJ Langenhoven :

Dis die smorende vuur wat swaarkry,
En tog nie die kos kan gaarkry.
En die vrolike vlam wat klap en kraak,
Dis hy wat sy taak tot vermaklikheid maak,
En sy swaarkry met lekkerkry klaarkry.

En verder as ek mag:

Almal van ons, behalwe die gelukkige ongelukkiges wat geestelik stilstaan, bly maar voortdurend besig om vorige opvattings en oortuigings in heroorweging te neem. Niemand van ons kom ooit tot finaliteit nie: die finaliteit van die dood keer vir ons halfpad. 

Stilstaan is nie 'n opsie. Weerstand kan erg pynlik raak. 

Laat gaan. Maak plek vir die lewe. Bon voyage!

ONS REIS BLYMOEDIG VOORT !

..........................................................................................................

http://randburgcounsellingcentre.yolasite.com/rates-and-services.php




Tuesday, September 22, 2015

Misverstande oppiepad



Alte dikwels, so ongevraagd en ongewensd dikwels, kom die misverstande oppie saam-oppiepad.

Die pyn, die verwydering en die afstand wat misverstande meebring, is alte dikwels "dealbreakers" wat lei tot amputasies wat eintlik vermy kon word indien die vaardighede van konstruktiewe konflik en konfrontasie beter bemeester sou kon word.

Waar kan ek en jy ons vaardighede in hierdie verband verbeter? Kan dit miskien die "missing link" wees wat die finaliteit van 'n verhoudingsbreuk kan voorkom?

En in die proses BOWENDIEN OOK baie pyn en lyding kan voorkom?

Is jy bereid om die tydelike ongemak van die groei-uitnodiging te deurleef?

Alles is moontlik terwyl daar gewilligheid is om die gesprek voort te sit - selfs al is dit in wel-beplande episodes!

ONS GAAN VOORT - BEMOEDIGD EN UITGENOOI TOT GROEI!

Sunday, September 20, 2015

Vat jou goed en trek...





Vandag dink ons saam aan 'n ander tipe pad. 'n Moeiliker pad. Die swaar-hart pad. Die trekpad. Nie net die trekpad nie maar ook die ongewensde, ongevraagde onbeplande pad wat dikwels nie 'n saam-oppiepad is nie. Hierdie pad is meer dikwels die alleenpad. Die pad van byvoorbeeld verplasing na 'n ander stad, selfs na 'n vreemde land of erger nog dalk die pad van egskeiding, bankrotskap of dood.

Met hierdie tipe gedwonge reis laat ek my hart iewers agter en ek benader my bestemming soos 'n skoolseun wat in die moeilikheid is. Ek onthou nog 'n skooljuffrou wat ons altyd gedreig het met die skoolhoof se kantoor. Ek herinner my nog aan haar woorde:" As jy moeilikheid maak, is jy Maandogoggend op die rooi tapyt". Ironies genoeg is rooi tapyte gewoonlik bedoel vir "celebrities". Dit lyk dalk vir ander goed en aantreklik. Ek kan jou verseker dat die skoolhoof se rooi tapyt wanneer jy in die moeilikheid is, hoegenaamd nie aantreklik is nie! Dis hierdie tipe van ongevraagde en gedwonge pad waarvan ons hier praat! Dis dikwels ook 'n skaam-wegkruippad.

Het jy jouself al op hierdie tipe pad bevind?

Ook hierdie pad is makliker wanneer jy dit nie alleen doen nie. Om te vra is vir meeste mense moeilik, maar mede-reisigers maak enige pad makliker. Al moet jy dalk sover gaan om 'n ondersteuningsgroep te Google - maak dan so! Jy sal dalk net verbaas wees oor hoeveel ervare reisigers hierdie tipe pad al geloop het! Mededeelsaamheid bring steeds groot verligting want onthou jy nog: nie net is "sharing caring" nie, maar "trouble shared is troubled halved" bly ook nog steeds 'n bevestigde en betroubare misterie! Jy sal net moet kies om "vra" te inisieer!

Gegroet, liewe mede-reisiger!

ONS REIS MOEDIG VOORT!

Monday, September 14, 2015

Kies dalk soms stukkies sonder-moeite-afdraendpad...



Stroom af in my kano...

Die pad van die vloei gaan saam met die vloei van die pad. Kies soms en dalk beslis vandag om die stroom te volg?  Die stroom van samesyn, foto's neem en saamwees opvang. Gee en neem net wat daar is. Dankbaarblydskap wag vir jou.

Kies goed. Geniet die goed - dan word voluitlewe-vreugde een van die presente wat groter en groter groei en groei.

Die goeie dinge kom na hulle toe wat wag.

Wees geduldig.
Wees getrou.
Gooi nou weg al die berou. 
Doen wat reg en goed is.
Grote vrede sal jou omvou

BEMOEDIGD, BLYMOEDIG REIS ONS VOORT - LIEWE, LIEWE MEDEMENS!



Sunday, September 13, 2015

Die klopdisselboompad





Daar is ook die tye oppie pad wanneer dinge sommer voor die wind gaan. Klopdisselboomtye. Hier is twee verduidelikings:

“Klopdisselboom is an Afrikaans word used to describe a feeling that things are going very well. If someone asks you “How is it going?” you could reply “Everything is klopdisselboom.”

Klopdisselboom: Dit gaan klopdisselboom (dit gaan baie goed)
As perde op 'n stywe, egalige draf 'n kar trek, dan klop die disselboom ritmies teen die draaghout.
Klopdisselboomtye is daar om geniet en waardeer te word. Neem baie foto's, lag goed en diep saam en kry selfs 'n goeie dosis binnepret op jouse sigselwers in!

Geniet die moedskep asemskep tye van klopdisselboom!

Gegroet, liewe medemens!

ONS REIS VOLMOEDIG VOORT!


Saturday, September 12, 2015

Saam-oppiepad - onthou jou sambreel! #LetsTalk



Uitgelewer teen die elemente?

Wanneer jy jouself karloos, weerloos, dakloos iewers afgelaai bevind, word 'n sambreel 'n baie belangrike oorlewingsinstrument. Miskien self gestrand en sonder opsies in 'n veraf vreemde land - so baie ver va jou vaderland.

Dit is in hierdie tye wat 'n sambreel jou beskerm, drooghou, koelhou en wanneer 'n sambreel dinge net soveel gemakliker maak. Jy weet wat ek bedoel? Jy weet!  'n Klein detail, 'n klein stukkie voorsorg-onthou wat 'n baie groot verskil kan maak.

Wanneer jy daar buite is, is die weer en die elemente een van die min dinge wat jy nie kan beheer nie.

Sambrele is prakties en tog ook so baie simbolies. Persoonlik: Wat is jou sambrele? Wie en wat is jou sambrele? Waar is jou betroubare sambrele? Hoe beskikbaar is hulle in tye van nood? Wie en wat is jou ondersteuningssisteem? Hoe kan ek sambrele bekom? Behou. Onderhou?

Wat maak jy wanneer jy haweloos, dakloos en weerloos is? Het jy 'n sambreel?

Kom ons dink saam aan sambrele. Kom ons glo saam dat dit moontlik is om sambrele van veiligheid te bekom en te behou.

Raak sambreelbewus. En bly glo dat dit moontlik is. As jy bereid is om aan te hou met soek en vra. Dan is moontlikheid wel deeglik daar!

Veilig en beskermd oppie pad. Dis moontlik, En baie wenslik. En miskien is die veilgste Sambreel die wat Groter is as jyself en jou situasie? Of is dit? En hoe kan dit verander as dit nie is nie? En kan dit ooit? Genoeg vir nou. Ek weet dat dit moonlik is. Daar is net gewoon te veel bewyse. Real life stuff. Ek is 'n Dealer in Hope. En daarom weet ek ons is:

VEILIG SAAM OPPIE-PAD. GEGROET LIEWE MEDE-REISIGER!

ONS REIS BEMOEDIGD VOORT!



Wednesday, September 9, 2015

Die donker pad van hoop...




Nou ja liewe medemens jy mag dalk vandag vir my wil vra: Hoe op aarde kan hoop en donker in dieselfde sin wees?

Dis 'n groot landskap en 'n baie wye perspektief. Wil jy dit waag om saam te kuier?

So een of twee invalshoeke of ligstrale in die donker in:

Henri Nouwen praat daarvan dat jy deur jou pyn moet gaan om by ware vryheid uit te kom. Die subtitel van sy boek " The Inner Voice of Love" is duidelik:

"A journey through anguish to freedom" Nogals die moeite werd om rustig deur te werk as die donker met tye oorweldigend word. Hier is 'n skakel: http://www.amazon.com/The-Inner-Voice-Love-Journey/dp/0385483481

Die lig aan die einde van die tonnel mag dalk soos uitstel afstel voel, maar behou die geloof want die lig en die vryheid sal by jou ook uitkom.

Onse Phil Bosmans praat weer: "Jy kan in hierdie lewe nie jou kruis weggooi sonder om daardeur verpletter te word nie"

Hou 'n oop kop en 'n oop valskerm - al gaan dit teen elke greintjie van logika in.

Kom saam. Nie alleen nie maar saam:

ONS REIS BLYMOEDIG VOORT.

Gegroet, liewe medemens!

Sunday, September 6, 2015

Dalk so 'n bietjie verdwaal? - I think am getting lost! #LetsTalk.Life



Image result for out of focus road signs

Die lewenspad kan met tye nogals donker raak. Met tye maak niks veel sin nie. Die pad word 'n strompelpad. Pynlik alleen - selfs tussen mense en selfs in 'n grootstad. Nie meer saam-oppiepad nie - dikwels 'n baie alleen-oppiepad pad.

Dis in tye soos hierdie war jy voel asof jy in die sand vassit en jy is dan met tye nie eers seker of jy wel nog op die regte pad is nie.

Klink dit dalk effens bekend? Herken jy dalk so effe die gevoel?

Dit is in tye soos hierdie wat 'n nuwe fokus op padtekens - op die GPS of Google Maps nogals verligting kan bring! Miskien moet ek maar vra - ek maak dit nie op my eie nie - ek is nie REGTIG so onafhanklik nie!

Wat is die padtekens? Kom ons gesels saam!

Hier is die skakel: https://randburgcounsellingcentre.com/contact-us.php


Hier is een van ons kliente se ervaring van saam gesels:
Dis wonderlik om 'n mense se gedagtes, drome, beplanning, besluite en 'issues' teen 'n onpartydige, objektiewe persoon af te 'bounce'.  Dis belangrik om sake met jou naastes te deel, maar 'n mens se vriende, eggenote, kollegas en/of kinders staan soms te naby aan jou om werklik objektief te kan luister. 'n Opgeleide, ervare persoon luister dieper, vra die regte vrae en dwing jou soms subtiel om hard en diep oor 'n saak te dink, en eerlike antwoorde op moeilike vrae te gee. Dit maak dit soveel beter as jy gemaklik voel met die persoon, want 'n vertouensverhouding is die kruks van die saak.  En iemand wat jou taal praat, jou siening, kultuur en agtergrond verstaan en jou geloofsoortuigings deel, is volgens my die beste en enigste manier om dit aan te pak.Ek het dit alles by julle gekry, en vertel dus deesdae gereeld vir mense dat almal van ons 'n life coach in sy lewe nodig het!Baie dankie, en sterkte!


Ons nooi jou uit - #LetsTalk.Life.

Hier is 'n paar opsies:


  1. die skakel weer: https://randburgcounsellingcentre.com/contact-us.php
  2. Of raak deel van ons "Mailing List" dan praat ons saam: christocounsellor@gmail.com 
  3. Kyk uit vir ons op sosiale media of
  4. volg hierdie blog deur ons regsbo op hierdie bladsy te volg


Kom gesels saam... kom deel met ons dat ons mededeelsaamheid die pad vir mekaar makliker mag maak...


ONS REIS BLYMOEDIG VOORT





Tuesday, September 1, 2015

Saam-oppiepad: Die wandelpad




As ek moeg word vir die lewe in die stad lok my die wandelpad...

Twee mense kan nie saamloop as hulle nie saamstap nie.

Wie loop saam met jou op JOU wandelpad? Is dit 'n saamstappad? Is dit 'n alleenpad? Is dit 'n misverstaanpad? Is dit die pad van jou keuse?

Is dit 'n goeie pad?

Padlangs. Wat is jou drome? Wat is jou wense? Wat is jou versugtinge?

Het jy vrede? Wat is jou vrae?

Trouble shared IS trouble halved...

Kom ons raak mededeelsaam en medemenslik op ons paaie.

Miskien, net dalkies, sal ons vir mekaar ligte van saamskyn raak en mekaar se paaie verligter maak.

Dalk "worth a try?"

ONS GAAN BLYMOEDIG VOORT.

Sunday, August 30, 2015

Die Woestynpad van bevryding





Dit is tydens saam-oppiepad - saamwees oppie langer pad, dis met hierdie tye dat versugting en moedeloosheid dikwels omskep word in verligting.

Op die eindelose, nomadiese pad verlaat sin en funksie die bewussyn met tye. Soms is al wat oorbly bloot net 'n meganiese aanstap. Tree vir tree spore agterlaat deur droogtes, woestynnagkoues, hittige   middagson oor eindelose horisonne van woestynsand en baie niks.

En dan, vanuit die voortploeter deur groot stukke niks, aanvanklik soos 'n mirage in die woestyn verskyn daar met tye. dikwels op die onverklaarbaarste maniere, die oases van verligting, verfrissing. Dit kan 'n werklike oase wees, 'n blye herontmoeting en selfs so onsigbaar soos 'n terugblik op iets wat eens so mooi was dat dit in jou geheue bly vassteek het.

Die woestynpad kan 'n pad wees van bevryding. Soos die subtitel van Henri Nouwen se boek : "The Inner Voice of Love" dit mooi saamvat: "A journey through anguish to freedom". Aanhouer wen. Tree vir tree - en uit niks, uit woes en leeg is die aarde geskep in al sy glorie!

Het jy nog 'n oomblik, liewe medemens?

Laat die ou bekende Mike Batt jou vir 'n minuut of twee op 'n reis neem...

Intussen :

ONS GAAN BLYMOEDIG VOORT


Mike Batt Caravan Song

Saturday, August 29, 2015

Stihou en feesvier - saam-oppiepad !





En dan is daar die tye wat stihou meer is as bloot net stilhou vir petrolingooi of bene rek! Of selfs meer as net bloot saamkuier! Dan is daar die tye wanneer ons doelgerig wil saam feesvier. Saam geniet die suksesse en mylpale van geliefdes. Belangrike en selfs onmisbare geleenthede waar ons saam vir en saam met mekaar opgewonde raak oor meer as net ons eie suksesse.

Kan ons onsself toelaat om soms selfloos meegesleur te word in en deur die sukses wat dalk selfs buite onssigselwers is? Die suksesse van medemense en "geliefdes" waarop ons selfs dalkies stilweg jaloers is? Outch! Dit kan eina raak! Maar nie daar gelaat nie! Ons wil tog immers almal groei of hoe!?

Hier is 'n uitdaging: Miskien is blyword vir en saammet 'n "beduindende ander" een van die toetse van mededeelsaamheid, medemenslikheid en selfs van die mate waartoe ons daarin kan slaag om "community" te doen!? Edelheid! Dit klink darem goed en reg - up to the challenge?

Kan jy jouself agterlaat en saam feesvier oor die suksesse en mylpale van geliefde mede saam-oppiepad reisigers?

Die vraag bly privaat. Aanvanklik (gelukkig) die antwoord op die vraag ook! Die antwoord sal met tyd meer en meer sigbaar raak. In die vorm van 'n oorwinning! Die beloning is baie groot! Watch this space!

Kom ons gaan aan - saam-oppiepad! Ook hierdie dikwels effe moeiliker pad!

ONS GAAN BLYMOEDIG VOORT !



Tuesday, August 25, 2015

Die lang pad.




Is die pad soms baie lank en sonder rus? Is jy moeg geloop? Moeggeploeg? Dit gebeur in die beste van families! Skrale troos! Moeg is moeg en ophou is dikwels nie 'n opsie nie. Ai tog. Hoegemaak nou?

Aanhou met Windows stilletjies in SAFE mode is soms 'n opsie. Terwyl jy "Reposition", "Refuel" en "Regroup"?

Aanhou maar terselftertyd ophou om aan te hou teen dieselfde spoed as vantevore. Jy mag dalk verbaas wees oor hoe min van jou bewonderaars dit wel agterkom!

Spaar jou energie. "Go green" en werk meer ekonomies met jou "resources"? Dalk?

Net los gedagtes. Wat dink jy?

ONS GAAN BLYMOEDIG VOORT!

Sunday, August 23, 2015

Die volgende reisplan




My ma het altyd gese dat jy ten minste drie redes moet he alvorens jy die motorsleutel draai en begin ry. Haar redes was onder meer ekonomies - om ons te leer om byvoorbeeld spaarsamig te wees, Sy wou ons ook waarskynlik leer om doelgerig te lewe!?

Daar is ook  'n groter waarheid in hierdie beginsel opgesluit. Dis amper noodsaaklik om 'n verdere doel te he: alvorens jy by jou bestemming aankom, moet jy reeds die volgende seisoen se reis begin beplan en dalk selfs in plek kry.

As jou doel is om net matriek te maak, kan die lewe heel moontlik vir jou doelloos platval wanneer jy by matriek uitkom.

Indien jou doel is om net by aftrede uit te kom, is daar 'n groot kans dat meer as bloot net ophou werk sal inskop by aftrede : jy mag dalk op baie maniere doodgaan en jouself in die vertreksaal na jou hiernamaals bevind!

Indien jy by 'n bepaalde posisie van binne jou organisasie wil uitkom - waarheen gaan jy asjy  dan nou klaar by "bo" uitgekom het?

Kry vir jou 'n doel vir na hierdie doel en jy sal vele onnodige doodloopstrate vermy!


ONS GAAN BLYMOEDIG VOORT !

Oases langs die pad - saamkuier



Saam-oppiepad wees beteken ook soms saamrus langs die pad. Die groen oases van vrede - soms heel bekend en soms soos vars nuwe ontdekkings. Soms die herlewing van ou, miskien selfs lank vergete saamwees momente.

Die tenkvolmaak van saamwees, bene rek, saam lag en selfs saam eet. By ons 'n boerebraai en by julle miskien 'n plaaspiekniek. By ander dalk 'n maaltyd rondom 'n skaapboud. Saamwees en saamdeel is waaroor dit gaan by so 'n volmaak, goedmaak en heelmaakfees.

Saamkuier by oases van saam-veiligwees is 'n noodsaaklike element van saam-oppiepad wees. Maak tyd vir hierdie bestandeel!

Dankie aan almal wat deel is van my veilige plekke!

ONS REIS BLYMOEDIG VOORT!

Friday, August 21, 2015

Verlange. Dalk net. Miskien weer eendag.




Gegroet, liewe mede-reisiger!

Waarna verlang jy vandag?

Om te verlang is 'n baie persoonlike ervaring. Persoonlik en uniek. Miskien is verlange iets wat in hierdie nou- as onvoltooid of onafgehandeld ervaar word? 'n Versugting soos " As ek maar net..." ?

Verlange kan verkillende vorms aanneem. Verlange kan vorentoe gaan of agtertoe gaan

Vorentoe verlang is ook dalk hoop? Vorentoe verlang is byvoorbeeld die uitsien na dit wat nog kom. Daar is die verlange na die ideale persoon wat jy nog wil ontmoet. Daar is selfs ook die verlange na 'n hiernamaals. 'n Uitsien na 'n tyd wanneer dinge dalk net goed en mooi sal loop.

Dan is daar terugverlang na daardie tye en dae wat goed was. Dikwels 'n terugverlang huistoe. Wortels toe. Eie mense toe. Dalk selfs 'n terugverlang na jou vaderland waar jy dalk in die vreemde alleen vasgekluister sit - dalk selfs sonder dat iemand weet!? 'n Terugverlang na daardie mense en plekke en dinge waarvan ons dalk moeilik afskeid geneem het. Terugverlang na geleenthede wat deur jou vingers geglip het. Wat dalk vir altyd weg is?

Maar wanneer die pyn van verlies in groter dosisse verby is, dan bly net die verlange en die heimwee oor. En dit kan goed wees. Om te kan voortleef met die wete dat dit wat goed is moontlik was en daarom weer moontlik kan word.

En dan is daar die groter, dieper en blywende dors van die "Diepverlange" waarvan Jannie du Toit sing:

"O Christus diepverlange, van elke sterweling...

en kom ons eindig vandag saam met sy gevolgtrekking:

"...en rykdom laat be-erwe, wat ewig sal bestaan.."

Gegroet!

ONS REIS BLYMOEDIG VOORT!

Wednesday, August 19, 2015

Padlangs praat




Padlangs praat is om nie woorddraaie te loop nie. Om nie doekies om te draai nie. Padlangs praat is  om nie kortpaadjies of afdraaipaadjies te soek nie. 

Verder beteken padlangs praat ook om nie in doodloopstrate in te draai nie. Padlangs praat is om reguit te praat. 

Om reguit en feitelik te praat is relatief maklik as dit net oor feite gaan. Wat minder maklik is is om reguit te praat op so 'n manier dat jy die verhouding met jou medemens steeds in stand hou.

Die diplomaat kan 'n moeilike ding op 'n mooi manier oordra. Die Engelse het 'n tong innie kies uitdaging in hierdie rigting:

"Diplomacy is the ability to tell a person to go to hell in such a way that he looks forward to the trip" 

Die boodskap hier is nie om mense in hulle maai in te stuur nie, maar eerder om te bly werk aan die lewenstaak van die woordkuns van saampraat, terwyl ons saamloop. 

Saam oppie pad. 

Padlangs.


ONS GAAN BLYMOEDIG VOORT! 

Tuesday, August 18, 2015

'n Storie om oor te vertel?





Liewe medereisiger

Ons loop die pad so sonder stories. So unreal en stil. Kom ons waag saam om ons menswees bloot te lĂȘ? Dan sal ons waarskynlik baie meer medemenslik en veilig kan raak. Soos kinders: I'll show you mine if you'll show me yours. Of soos die Ingelse pers drakie Barnie uitnooi: Sharing is caring.

Sal jy iets van jouself vandag waaghalsig en versigtig aan 'n gekose vertroueling meedeel?

Jy mag dalk net aangenaam verras word!


Ons gaan blymoedig voort!

Monday, August 17, 2015

Hoe loop die pad dan nou vir jou, liewe medereisiger?



Die pad terug is die pad huistoe. Coenie de Villiers het 'n mooi woordprentjie in sy song geskilder :

Daar's 'n plek wat ek van weet
sonder sorge sonder pyn sonder leed
die pad daarheen is ongekaart
die reis daarheen is sonder vaart
en daar is rusplek langs die pad

Het jy 'n sorgelose rusplek? 'n Oase van veiligheid in die rustelose elkedagroetine? Soek en kry vir jou 'n plekkie in die son. Dit kan in jou gedagtes wees, dit kan 'n stukkie mooi onthou wees. Kry vir jou 'n oase, 'n eie, persoonlike stilwees plek van veiligheid en rus langs die pad!

Soos die einste Phil Bosmans van voorheen gese het:

Die lewe is nie 'n snelweg tussen die wieg en die graf nie, maar 'n ruimte om te parkeer in die son.

Steel vandag vir jouself ten minste eenmaal 'n lekker parkeerplek!

ONS GAAN BLYMOEDIG VOORT ! 


Die pad saam loop...

Kom ons loop saam...



https://www.youtube.com/watch?v=-PK4-xYTIJA



Ek loop die pad al lank my lam
So kaalvoet deur die kou
Van doerrie kant se Doringveld
En kyk hoe lyk ek nou
Ek loop die pad so sonder hoed
Deur son en wind en grou
So kaalvoet oor die slingerpad
En kyk hoe lyk ek nou
My lam, die gras is soms so groen
Die son is soms so lou
Maar ek loop die pad alleen my lam
En kyk hoe lyk ek nou
Onthou jy nog hoe ons kon loop
So loslyf, so verspot
So vlieg-vlieg oor die koppies heen
‘n Ragab en ‘n Lot
Maar nou loop ek die pad alleen
So kaalvoet deur die kou
En soms, net soms, dan wonder ek
My lam waar is jy nou (2)

Dis alles nuut en vreemd : 'n ander manier van mededeelsaamheid...




Dis vrek moeilik om te deel van wat jy nie sien nie. Van dit waarvan jy self nog onseker is. Kom ons maak dit saam veiliger om meer mededeelsaam te raak oor ons onseker prentjies. Die prentjies wat nog so ietwat (of heelwat) uit fokus is.

Kom ons neem die risiko, vat die kans, en deel saam en raak mededeelsaam. Wat kan jy verloor? Miskien net die ongegronde vrees om te deel? Saam!?

Ek onthou die vreemdeformaat koffietafelboekie wat tydens my skooljare in ons huis rondgeswerf het. (Selde op die koffietafel - vreemd genoeg!)

Dit was 'n bloedrooi boek met 'n baie kleurvolle bos blomme voorop. Dit was vrolik. Aantreklik. Dit was menslik en diep roerend op 'n vreemde manier.

Dit was 'n Afrikaanse vertaling van Phil Bosmans (as ek reg onthou) se boek : "Menslief ek hou van jou"

Wat my steeds bybly na vreeslik baie jare is die volgende:

Die lewe is nie 'n snelweg tussen die wieg en die graf nie, maar wel 'n ruimte om te parkeer in die son.

Is dit nie beautiful nie?

Waarheen en waarom jaag ons so? Wie se orders gehoorsaam ons dan so blindelings?

Ek onthou die vrylik uitgesproke versugting van een van my wonderlike Ingelse vrinne:

"Christo, I long to have an entire afternoon in which I am free to simply sit on the step at the back door and simply watch the turkeys..."

Nou diep genoeg vir nou.

Waar wil jy die risiko neem om mededeelsaam te wees en jou pad na 'n nuwe vryheid te begin? Laat ons hoor?

Gegroet, liewe medemens! 

Kom jy saam? Kom ons loop die pad saam




Gegroet, liewe mede-reisiger!

Hier is 'n uitnodiging. Sonder druk of oordeel.

Laurika het gesing:

"Ek loop die pad al lank, my lam.."

Hoe loop jou pad? Sien en ken jy sy loop? Is dit 'n lekkerloop? 'n Saamloop? 'n Alleenloop? Watter loop is jou gunstelingloop? Nee, sonder reg of verkeerd - net die loop soos hy is. Jou gunsteling loop? Watter loop is jou loop?

Ken jy jou pad se loop? Het jy met hom vrede gemaak? Weet jy hoekom wat jou pla?

Kom ons loop saam.
Ons is saam-oppiepad.

Kom ons gesels oor die lope van onse lope. Saam en lekker veilig.